Platmin in hof gepak oor myn op plaas


Platmin in hof gepak oor myn op plaas

Regslui vir Menseregte doen Donderdag aansoek om ’n dringende hofbevel teen Pilanesberg Platinum Mines (Platmin) om sy mynboubedrywighede op die plaas Wilger­spruit summier te staak.

Luidens hofstukke is die Lesethleng-gemeenskap van die grond afgedryf toe Platmin voorbereidings begin tref het vir ’n oopgroefmyn en moet die grond dadelik aan die gemeenskap teruggegee word.

Die hofstukke is verlede week by die Mahikeng-hooggeregshof ingedien, volgens Louise du Plessis, van Regslui vir Menseregte.

Die gemeenskap het die grond in 1919 gekoop, maar kon weens onder meer apartheid nie titelaktes daarvoor kry nie. Die gemeenskap het al die koopbriewe om te bewys die grond behoort aan hulle.

Die gemeenskap het glo in 2008 verneem “ ’n stamowerheid” het mynregte op Wilger­spruit gekry.

“Al het die gemeenskap nie ingestem tot die mynbedrywighede nie, het die aktiwiteite begin. Die myn het dele van die plaas afgekamp en die grond ontbos.

“In die proses is die gemeenskap se waterpype gebreek. Die mynmaatskappy het glo ook veiligheidswagte aangestel om die gemeenskap te keer om op hul grond te kom.”

In Oktober 2014 het Regslui vir Menseregte ’n brief aan Platmin geskryf. Platmin het glo ’n paar maande aan die eis gehoor gegee, maar op 22 Maart vanjaar die gemeenskap se huise en ander strukture begin platstoot. Op 5 Augustus is die gemeenskap ingelig dat hul “verblyfreg” op die grond verval het.

Leigh King, Platmin se woordvoerder, het gesê Platmin wil nie reageer op die aangeleentheid nie omdat dit “op pad hooggeregshof toe is”.